Sutta Nipāta 1.11

Lyftaal

In loop of staan of sit of lê word gebuig en gerek
en so beweeg die soepel lyf.

Maar geheg met been en spier en met vleis en vel gepleister
bly die lyf se waarheid ongesien:

vol maag en derms, lewer en blaas, hart en longe, niere en milt,

slym en spoeg, sweet en limf, bloed en vog, gal en vet;

uit nege openings vloei gedurig vuil:
uitskeidings uit oog en oor en neus,

gal en slym uit die mond,
sweet en vuil uit die lyf;

en die hol kopbeen is vol brein.
Op voetspoor van sy onkunde
vind die dwaas dit mooi.

Maar wanneer die dooie opgeswel en blou en weggegooi daar lê
gee die familie nie meer om nie

en honde, jakkalse, wolwe, wunns, kraaie en aasvoëls en ander
veldgediertes vreet daaraan.

Luisterend na die Boeddhawoord en wys verstaan die monnik die lyf se taal
en sien die waarheid daarvan raak:

eie- en ander-lyf is soos ’n lyk, ’n lyk soos ’n lyf—
en hy begeer die lyf nie meer nie.

Begeerte- en hartstogloos bereik die wyse monnik nibbana híér:
die doodlose, vredige, oneindige wees.

Die onsuiwer onwelriekende tweebeen lek allerhande stanke
en tog word dit vertroetel.

Om met so ’n lyf jouself te verhef en ander te verag—
wat is dit anders as blindheid?